Hou ‘n wit troue – van spierwit tafeldoeke en elegante breekgoed, tot die blomme en selfs papierversierings wat bo die tafels hang.
Die tafel
‘n Wit kleurskema is eenvoudig, maar tog stylvol. Gebruik een aksentkleur, soos groen, om te keer dat dit eentonig lyk. Tafellinne van goeie gehalte, wit breekgoed en elegante glase skep ‘n luukse atmosfeer.
Papierversierings
Ryg vierkante wit papier op dun nylondraad en maak ná elke vierkant ‘n pêrelkraal aan die draad vas om dit in plek te hou. Hang dit aan ‘n tappen bo die tafel.
Blomme
Sit ‘n paar groot wynglase op ‘n wit staander van Supawood en maak ‘n klein rangskikking in elke glas. Hou ook hier by die kleurskema van wit-en-groen.
Pleknaamkaartjies
Druk elke gas se voorletters in liggrys ink op dik aftrekpapier uit. Sny die papier in kaartjies. Speld ‘n kaartjie en ‘n groen blaartjie aan elke servet vas.
Dankie
Druk die woord ‘Dankie’ oral op dik aftrekpapier. Sny die papier in stroke en krul elke strook oor die lem van ‘n skêr. Bind dit om blomme in ‘n glas. Sit dit in die onthaalplek neer om jou gaste te bedank.
Die koek
‘n Klassieke troukoek met fyn versierings rond die voorkoms perfek af.












Nog geen kommentaar.