Fyn van draad


Laai die PDF af


Laai die PDF af


Laai die PDF af


Met net ‘n paar stukkies draad uit jou agterplaas kan jy die mooiste versierings vir jou huis maak. Hier is ‘n paar projekte om jou te inspireer.


Algemene benodigdhede



  • beskermende handskoene (tuinhandskoene werk goed)

  • beskermende bril

  • langneustang

  • draadstroper (‘wire stripper’)

  • draadkniptang

  • maatband

  • potlood


Broodstaandertjie


Broodstaandertjie


Die persoonlike stempel op jou ontbyttafel.


Jy benodig



  • roosterbroodjiepatroon

  • 1,25 mm-dikte gegalvaniseerde draad

  • 0,45 mm-dikte draad

  • klamp

  • 2 los plankies

  • tappenstokkie of houtlepel


So maak jy


1 Knip ‘n lang stuk van die 1,25 mmdraad af – dis lekker om met so 2 m op ‘n slag te werk. Hou dit aan die een punt vas en glip dit tussen die vingers van jou ander hand deur om die draad reguit te kry.


2 Buig die draad in die helfte en klamp die twee punte tussen twee plankies vas aan jou werktafel. Sit die tappenstokkie of houtlepel se steel in die lus wat die draad vorm, trek dit styf en begin die stokkie of lepel al in die rondte draai om die draad ‘op te wen’. Wen die hele draad so op.


3 Fotostateer die patroon van die roosterbroodjie en vergroot dit tot die verlangde grootte. Dit moet effens kleiner wees as ‘n regte sny brood. Neem nou jou opgewende stuk draad en buig dit met jou langneustang in die vorm van die broodjie. As jy klaar is, knip die draad af en heg die punte met die 0,45 mm-draad aan mekaar vas. Maak nog vyf broodjies so. As die draad opraak, wen nog ‘n stuk draad op soos in stap 2 verduidelik is.


4 Gebruik nog opgewende draad en vorm nou ‘n reghoekige basis waaraan die broodjies geheg kan word. Die lengte en breedte hang af van die grootte van jou broodjies. Daar moet een broodjie aan elke kant van die basis wees met so ‘n 3cm-spasie tussen elk. Heg die basis se twee punte ook met 0,45 mm-draad.


5 Maak nou die handvatsels, ook van opgewende draad. Die steeltjie is die hoogte van die broodjies plus ‘n derde en ekstra vir die lussie op die punt.


6 Heg die broodjies se onderkante aan die basis en die handvatsels aan die kante met 0,45 mm-draad om te voltooi.


Draadhangers


Draadhangers


Fyn versierings vir jou muur – met die bokante van ‘n blommetjiesrok en strikdas-pak.


Jy benodig



  • hangerpatrone

  • 2,5 mm-dikte sagte staaldraad (vir albei hangers)

  • 0,71 mm-dikte gegalvaniseerde draad (vir albei hangers)

  • 1,25 mm-dikte gegalvaniseerde draad (vir albei hangers)

  • 0,45 mm-dikte draad (vir die blommetjiesrokhanger)


So maak jy


1 Fotostateer die patroon van die hanger wat jy wil maak en vergroot dit tot die verlangde grootte.


2 Werk iewers op die vloer waar jy genoeg plek het om die draad af te rol en te vorm. Hou jou patroon byderhand. Knip ‘n stuk 2,5 mmdraad af wat lank genoeg is om die buitelyne van die patroon te maak. Maak die draad reguit soos in stap 1 by die broodstaandertjie verduidelik word.


3 Neem jou langneustang, begin bo by die krul en buig die draad volgens die buitelyne van die patroon. Druk die draad plat soos jy werk en maak seker die draad behou sy vorm. Sodra jy klaar is, draai die draad ‘n paar keer om die hanger se steeltjie en knip dit af. Volg nou die aanwysings hieronder om die hanger te voltooi.


Blommetjiesrokhanger


Knip twee stukke 1,25 mm-draad af en buig dit volgens die patroon om die rok se hals te vorm. Heg die vier punte met 0,71 mm-draad aan die hanger vas. Maak die skulppatroon om die halslyn met 1,25 mm-draad en draai die punte om die hanger om dit in posisie te hou. Om die rok te versier, maak blomme met 0,71 mm-draad en maak dit met 0,45 mm-draad aan die hanger en aan mekaar vas.


Strikdashanger


Knip ‘n stuk 1,25 mm-draad af en buig dit in ‘n strikdas volgens die patroon. Neem die 0,71 mm-draad, draai dit ‘n hele paar keer om die middel van die strikdas en heg dit aan die hanger.


Vase met draadwerk


Hier is drie verskillende tegnieke om gewone glasvase te versier.


Jy benodig



  • glasvase

  • 0,71 mm-dikte gegalvaniseerde draad (vir al drie vase)

  • 1,25 mm-dikte gegalvaniseerde draad (vir maasdraaden krulmaasdraad-vase)

  • Vaas met gedraaide draad


1 Knip ‘n stuk 0,71 mm-draad af wat lank genoeg is om die hele versiering te voltooi. Maak die draad reguit soos beskryf in stap 1 van die broodstaandertjie.


2 Draai die draad om die nek van die vaas en draai die punt om die draad om dit te heg.


3 Buig die draad ondertoe tot omtrent 2 cm vanaf die onderkant van die vaas, draai dit styf om die vaas en draai dit dan in oorkruis sirkels om die vaas.


4 Eindig af deur die punt weer om die nek te draai en om die vorige hegplek te draai. Knip die punte netjies af en druk dit plat teen die vaas om te voltooi.


Maasdraad-vaas


1 Draai ‘n stukkie 1,25 mm-draad losweg om die nek van jou vaas en draai die twee punte om mekaar om dit te heg.


2 Knip ses stukke 0,71 mm-draad af wat in lengte elk vier keer die hoogte van die vaas is. Vou elke stuk in die helfte en haak dit aan die draad om die nek van die vaas vas. Hou die stukke eweredig gespasieer.


3 Begin die maaswerk doen deur die regterbeen van die eerste stuk draad om die linkerbeen van die volgende stuk draad te draai, omtrent 4 cm van die nek van die vaas af. Herhaal reg rondom om die eerste rondte te voltooi.


4 Vir die volgende rondte, laat weer 4 cm oop, maar draai nou telkens die linker- en regterbeen van dieselfde stuk draad om mekaar.


5 Herhaal stap 3 en dan weer stap 4 tot by die onderkant van die vaas.


6 Draai nou die vaas onderstebo en buig die stukke draad om die bodem van die vaas. Herhaal nog ‘n rondte en draai dan die stukke draad vir omtrent 1 cm twee-twee om mekaar om af te heg.


7 Ryg ‘n stuk draad al om die afhegtingspunte, trek dit styf en heg dit deur die draad se twee punte om mekaar te draai.


8 Verstewig die draad om die nek van die vaas indien nodig, knip die punte netjies af en druk dit plat teen die vaas.


Krulmaasdraad-vaas


1 Volg stappe 1 en 2 soos by die maasdraad-vaas hierbo.


2 Begin die krulmaaswerk doen deur die linkerbeen van die eerste stuk draad om ‘n potlood te draai om ‘n sirkeltjie te vorm, omtrent 2,5 cm van die nek van die vaas af. Herhaal met die regterbeen van dieselfde stuk draad. Herhaal reg rondom die vaas.


3 Draai nou die regterbeen van die eerste stuk om die linkerbeen van die tweede stuk, omtrent 2,5 cm ondertoe. Maak weer sirkeltjies in die drade, nog 2,5 cm ondertoe. Herhaal reg rondom die vaas. Draai nou telkens die regter- en linkerbeen van dieselfde stuk draad om mekaar.


4 Herhaal stap 2 en dan weer stap 3 tot by die onderkant van die vaas.


5 Heg af soos by die maasdraad-vaas hierbo.


Kaggel-versiering


Kaggel-versiering


Gee jou kaggel ‘n paar sierlike krulle sodat jy nog lekkerder na die vlamme kan staar. Hier gaan jy so ‘n bietjie hulp nodig hê, maar jou (jul) moeite sal beloon word.


Jy benodig



  • 4 mm-dikte sagte staaldraad

  • 1,25 mm-dikte gegalvaniseerde

  • draad

  • fyn ogiesdraad


So maak jy


1 Meet die kaggel en werk uit hoe groot jy die versiering wil maak.


2 Die twee sykantdele het ons elk met vier stukke 4 mm-draad gemaak, drie min of meer eenders en die vierde met ‘n vetter krul aan die onderkant sodat dit meer uitstaan na die kante toe. Buig die draad met jou hande in die vorm wat jy wil hê. As jy dit nie met jou hande gebuig kry nie (veral met die kleiner krulle kan dit sukkel), kan jy dit om ‘n stewige silindriese voorwerp, soos ‘n ou metaalpot, buig om die regte vorm te kry. Knip die draad met jou draadkniptang af en heg die vier stukke met 1,25mm-draad aan mekaar vas. Maak seker dit staan stewig en druk die onderste punte platter indien nodig. Laat sweis die stukke so aan mekaar vas, as jy kan, want dit sal dit stewiger maak. Maak nou nog ‘n sykantdeel net so, maar maak dit ‘n spieëlbeeld van die eerste een.


3 Vir versiering het ons ‘n stuk fyn ogiesdraad van die regte lengte afgeknip en dit met stukkies 1,25 mm-draad om die drie eenderse stukke vasgemaak. Bo het ons dit aan ‘n stukkie 1,25 mm-draad geheg wat ons ‘n paar maal om die drie stukke gedraai het. Knip die ogiesdraad netjies soos jy vorder.


4 Die twee bokantdele het ons net so gemaak, maar met net drie stukke 4 mm-draad elk waarvan twee eenders lyk en die derde een vetter krulle het. Onthou om seker te maak die twee bokantdele pas tussen die twee sykantdele in en versier die twee eenderse stukke nes voorheen met ogiesdraad.


5 Heg nou die verskillende dele aan mekaar vas met die 1,25 mmdraad. Heg eers die twee bokantdele aan mekaar vas en heg dan die sykantdele aan weerskante Span ook ‘n stuk draad tussen die twee sykantdele – laat dit aan die onderkant van die kaggel loop sodat ‘n mens dit nie kan sien nie – en heg die punte stewig vas.