Huis-huis



Laai PDF hier af


Voor



Voor


Die eienaar se dogtertjie wou graag ‘n spesiale plekkie vir haar en haar maats hê, en die hout-tuinhuisie was uitgeknip daarvoor.


Die binne- en buitekant is met verskillende skakerings van pienk en wit opgevrolik terwyl verskeie handgemaakte artikels dit afrond – perfek vir die kleine dames. Ons het die strepe buite geverf met Plascon Velvaglo Apple Cheeks (A3-5) en White. Die rusbed en die selfdoenrak is met Plascon Velvaglo Bubblegum (A3-4) geverf. Vir die buitemure het ons Plascon Velvaglo Chiffon Rose (A3-3) gekies.

Dit werk


Koop basiese selfdoenrakke waarop ornamente en allerhande kleinode uitgestal kan word en sit dit hoog bo die vloer – uit die pad – vas.

Kitskuns


Verf ‘n paar 22 mm-Supawoodblokke (200 x 200 mm), boor ‘n gat in die middel en gebruik silikoon om kunslotusblomme in die middel daarvan vas te plak.

Rusbed



Rusbed


Omdat die Wendy-huis maar klein is, het ons besluit op ‘n rusbed van skuimrubber wat nommerpas gesny is sodat dit knus in een hoek pas.

Jy benodig



  • 22 mm-Supawood: twee 1 100 x 500 mm-stukke (lang sye )

  • twee 556 x 500 mm-stukke (kort sye)

  • skuurpapier

  • dennehout: twee 1 000 x 30 x 30 mmstukke

  • twaalf 554 x 60 x 22 mmstukke

  • houtlym

  • veertien 60 x 4 mm-skroewe

  • houtvuller

  • 548 x 1 050 x 70 mm-spons


Toerusting


elektriese boor, 4 mmboorpunt, versinkboorpunt, naald en gare, skêr

So maak jy



Raamwerk


1 Raamwerk Plaas die een 1 100 x 500 mm-stuk Supawood op ‘n plat oppervlak en lym die twee 556 x 500 mm-stukke aan die teenoorstaande binnekante van die 500 mm-sy vas. Lym die ander 1 100 x 500 mm-stuk bo-op die twee 556 x 500 mm-stukke vas – maak seker al die rande is mooi gelyk. Laat droog word.

2 Boor en versink twee gate by elke punt van die 1 100 x 500 mm-stukke en draai die 60 x 4 mm-skroewe deur die 556 x 500 mm-stukke in. Vul die gate met houtvuller. Laat droog word en skuur liggies.

3 Raam vir binnekant Lym en skroef elk van die twee 1 000 x 30 x 30 mm-dennehoutplanke aan die binnekant van die raamwerk langs die 1 100 mm-sye 50 mm van die bokant vas. Heg elke sy vas met drie 60 x 4 mmskroewe wat ewe ver uit mekaar ingedraai is.

4 Lym die twaalf 554 x 60 x 22 mm-dennehoutplanke ewe ver uit mekaar op die 1 000 x 30 x 30 mm-plank vas. Laat droog word.

5 Verf die buitekant van die rusbed met twee lae Plascon Velvaglo Bubblegum (A3-4). Laat elke laag droog word voordat jy die volgende een aanwend. Die dwarsplanke word ewe ver op die 1 000 x 30 x 30 mmplank vasgelym. Laat dit goed droog word voordat jy dit verf.

Spieël



Spieël


‘n Spieël met ‘n skulprand en roosversierings sal alte fraai lyk.

Maak self ‘n spieël


Teken die patroon  op 9 mm-Supawood na en sny dit met ‘n elektriese figuursaag uit. Boor ‘n 20 mm-gat in die middel van die patroon en saag die middelste deel uit. Verf die spieëlraam met twee lae Plascon Velvaglo Bubblegum (A3-4). Laat die verf ná elke laag goed droog word. Lym die spieël met klein bietjies silikon agterop die raam vas. Laat heeltemal droog word. Versier die voorkant van die raam deur kunsrosies daarop vas te plak met silikoon.

Vensterbank


Plant kleurryke petunias in die vensterbakke. Onthou om vir die kinders ‘n gieter daar neer te sit sodat hulle self na hul blomme kan omsien.

Boontjiesak


Jy benodig



  • 2½ m materiaal

  • naaimasjien

  • 1 klein sakkie polistireenbolle

  • naald en gare


So maak jy


1 Vergroot die patroondele tot die regte grootte en teken dit na. Knip drie van patroondeel 1 en een elk van patroondele 2 en 3 uit die materiaal.

2 Stik die drie stukke van patroondeel 1 aanmekaar vas op die rande wat A gemerk is.

3 Speld patroondeel 2 vas op die rand wat B op patroondeel 1 gemerk is en stik dit aan mekaar.

4 Speld patroondeel 3 vas op die rand wat C op patroondeel 1 gemerk is en stik dit aan mekaar, maar laat ‘n 20 cm-opening.

5 Vul die sak versigtig met polistireenbolletjies totdat dit halfpad of driekwart is (vra iemand om jou te help omdat dit nogal morsig kan raak). Speld die opening toe en werk dit met naald en gare vas.

Dit werk


Jy kan ‘n oortreksel vir die boontjiesak maak en ‘n ritssluiter in die oortreksel insit sodat jy dit maklik kan afhaal om te was.