Knip ‘n uiltjie



Jou kind sal onmiddellik verlief wees op dié warmwatersak. Volg ons maklike stappe en sorg vir warm nagte.

Jy benodig
• uiltjiepatroon
• gestreepte katoenmateriaal
• wit katoenmateriaal
• oorskiet-bont katoenmateriaal vir die driehoeke, vlerke en pote
• oorskiet-donkerbruin katoenmateriaal vir die oë, rooi vir die neus en pienk vir die wange
• appliekpapier
• dun watteersel
• stopsel vir die vlerke en pote
• Velcro
• donkerbruin borduurgare
• bypassende kleur masjiengare



Laai die patroon hiér af



So knip jy
Strepieskatoen

• 1 x lyf-voorpant (patroon 2)
• 1 x lyf-agterpant (patroon 4)
• 4xstrokevan25x2,5cm
Wit katoen

• 1 x kop-voorpant (patroon 1)
• 2 x kop-agterpante (patroon 3)
• 2 x lyf-agterpante (patroon 4)
• 1 x sak-voering (patroon 5)
Bont en gekleurde katoen

• 4 x bont vlerke
• 4 x bont pote
• 20 x bont vierkante
• 2 x donkerbruin oë
• 2 x wit oë
• 1 x rooi neus
• 2 x pienk wange
Appliekpapier

• 4 x oë
• 1 x neus
• 2 x wange
Watteersel

• 1 x kop-agterpant (patroon 3)
• 1 x lyf-agterpant (patroon 4)
• 1 x sak-voering (patroon 5)

So maak jy

1 Maak eers die sak se versierde voorkant. Vou elke vierkant dubbel om ’n driehoek te vorm en vou dit dan ’n tweede keer om ’n kleiner driehoek te vorm (skets 1 en 2). Pars elke driehoek.

2 Speld die driehoeke op die strepieskatoen-lyf-voorpant (patroon 2) vas volgens die patroon. Die driehoeke oorvleuel mekaar by die punte.
Skets 1 Skets 2


Skets 1 en 2

3 Vou soompies in die vier strepieskatoen-stroke se lang sye en stik ’n strook vas bokant elke ry driehoeke.

4 Stryk die oë, neus en wange met appliekpapier op die wit kop-voorpant (patroon 1) vas volgens die patroon. Werk ’n stiksel rondom die oë, neus en wange. Werk met die borduurgare stekies om die bruin en wit van die oë asook in die middel van elke oog.

5 Sit die pote en vlerke twee-twee op mekaar met die regte kante teen mekaar. Stik rondom vas maar laat bo oop. Sny kepies in die pote en vlerke se rondings, dop om en stop tot amper bo op (skets 3). Stik toe.

6 Sit die wit kop-voorpant en die strepieskatoen-lyf-voorpant regte kante op mekaar en stik vas. Kap die naat om.
Skets 7


Skets 3

7 Sit die voorpante soos volg op mekaar: wit sak-voering (patroon 5), dan die watteersel-sak-voering (patroon 5) en dan die versierde sak-voorpant, regte kant na bo. Speld rondom vas.

8 Maak nou die sak se agterkant. Sit die twee wit kop-agterpante (patroon 3) regte kante op mekaar en sit dan die watteersel-kop-agterpant bo-op. Stik die onderkant toe (skets 4). Vou die een laag wit katoen na die regte kant toe om en werk ’n hou-stiksel (skets 5).
Skets 4 Skets 5


Skets 4 en 5

9 Stik die Velcro vas soos aangedui op die patroon. Steek die drie lae rondom aan mekaar vas.

10 Sit die twee wit lyf-agterpante (patroon 4) regte kante op mekaar en sit die watteersel-lyf-agterpant bo-op. Stik die bokant toe. Vou die een laag wit katoen na die regte kant toe om en werk ’n hou-stiksel.

11 Stik die Velcro vas soos aangedui op die patroon. Steek die drie lae rondom aan mekaar vas.

12 Sit die kop-agterpant en die lyf-agterpant op mekaar sodat die Velcro presies ooreenkom en die agterkant ’n eenheid vorm wat net so groot is soos die voorkant. Speld vas.

13 Sit die vlerke en pote op die voorkant se regte kant soos aangedui op die patroon sodat hulle na binne lê. Stik vas (skets 6).

14 Sit die voorkant op die agterkant, regte kante op mekaar. Steek rondom vas en stik vas. Stik versigtig, want die lae is redelik dik. Kap die naat om en dop die sak om.
Skets 6


Skets 6