Leer teesakkie-vou



Teesakkie-vou is ‘n Hollandse papiervoukuns wat nou ook hier gewild raak. Ons wys jou stap vir stap hoe om rosette te vou waarmee jy omtrent enigiets kan versier. Ons het ‘n lampskerm mooigemaak.

Weet jy? Die naam ‘teesakkie-vou’ kom nie van die sakkies soos ons dit ken nie, maar van die mooi papiertjies waarin sommige tees in Holland verpak word.

Jy benodig

Vir een roset:

8 papiervierkante (presies dieselfde grootte en ontwerp)
handwerkgom

1 Beplan hoe jy die vierkante gaan vou sodat die mooiste deel van die ontwerp voor is wanneer dit klaar is. Die twee driehoeke in die diagram dui aan watter deel jy gaan sien.
Tea bag 1.1


2 Vou die vierkant met die ontwerpkant na onder diagonaal van hoek tot hoek en vou dit weer oop. Vou die ander twee hoeke net so en vou dit weer oop.
Tea bag 1.2


3 Draai die vierkant om sodat die ontwerpkant na bo wys en vou dit horisontaal in die helfte.
Teabag 1.3


4 Vou die vierkant weer oop en volg die voulyne om die sykante na binne toe te vou en ‘n driehoek te vorm.
Teabag 1.4


5 Vou die een helfte van die driehoek om tot by die middellyn van die driehoek.
Teabag 1.5


6 Herhaal met die ander helfte. Die eerste deel van jou roset is nou gevou.
Teabag 1.6


7 Vou die ander sewe vierkante net so sodat al die dele presies eenders lyk. Draai hulle met die punt na onder toe. Wend gom op elkeen se regterkantse sy aan, skuif hulle een vir een inmekaar in en plak hulle aan mekaar vas om ‘n roset te vorm.
Tea bag 1.7


8 Skuif die laaste een in die eerste een in en plak dit vas om jou teesakkie-roset te voltooi. Maak nog rosette – jy kan die groottes afwissel soos ons – en gebruik dit om ‘n lampskerm te versier, as plakboekversierings of om geskenke of kaartjies mooi te maak.
Teabag 1.8


WENK Eksperimenteer met verskillende ontwerpe en skakerings van papier en maak ‘n verskeidenheid rosette. Onthou dat die agterkant van jou rosette net so mooi soos die voorkant kan wees!