Maak 'n kremetartboom versiering van draad


Jy kan enige ding wat jou hart begeer van draad maak … ons wys jou waar om te begin.

Jy benodig



  • rolle gegalvaniseerde draad van:


3,15 mm (raamwerk)

1,6 mm (stam en takke)

0,71 mm (bindwerk)

  • draadkniptang

  • platneustang

  • 3 kleure glaskraletjies


So maak jy


1 Knip omtrent 3 m van die 3,15 mm-draad af en buig 1,5 cm van een punt teen ’n hoek van 90º om. Vorm ’n blom met vyf ‘kroonblare’ uit omtrent ’n kwart van die draad, en hou in gedagte dat die grootte van die blom die dikte van die stam bepaal.

2 Buig die draad 15 cm boontoe nadat jy die eerste blom gevorm het en vorm nog ’n blom wat nes die eerste een lyk. Maak die derde blom net so. Buig dan 1,5 cm van die draad 90º om en knip dit af.

3 Bind nou die begin- en eindpunt van elke blom vorm met 0,71 mm-draad aanmekaar vas. Gebruik die tang om groefies in die draad te maak voor jy begin bind – dit sal help om die binddraad in posisie te hou.

4 Knip lang stukke 1,6 mmdraad af (omtrent ses keer langer as die stam) en vou elke stuk dubbeld.

5 Hou die vou van die eerste stuk dubbelgevoude draad teen die onderste blomvorm, steek ’n lang stuk 0,71 mmdraad deur die vou en draai die dubbelgevoude draad aan die blomvorm vas.

6 Herhaal reg rondom sodat die hele stam met dubbelgevoude draad bedek is. Bind die dubbelgevoude draad ook aan die tweede en derde blomvorm vas.

7 Neem die punte van die dubbelgevoude drade wat bokant elke kroonblaar van die boonste blomvorm uitsteek saam in jou een hand en draai dit ’n paar keer om.

8 Verdeel die bondel drade in twee of drie ‘takke’, draai elke tak weer ’n paar keer om en hou aan om ál kleiner takke te maak tot by die punte van die draad. Draai ook van die takke inmekaar.

9 Ryg glaskraletjies op die punte van die draad in en buig dit met die tang om.