Verf dit nuut







Verf bly een van die vinnigste, maklikste en goedkoopste maniere om ‘n vertrek nuut te laat lyk. Boonop kan jy dit sommer self oor ‘n naweek doen. Op die volgende paar blaaie vertel ons jou hoe om die regte kleur en soort verf te kies én ons wys tegnieke om mure en meubels te transformeer. So waag ‘n bietjie – jy kan dit altyd later toeverf as jy weer lus is vir ‘n verandering.

Waar begin jy?


Jy is dalk al lankal lus vir ‘n verandering, maar is nie seker hoe om te werk te gaan nie. Die beste is om die projek in kleiner take op te deel en dan stap vir stap deur die proses te gaan – jy sal verbaas wees oor hoe maklik dit is om alles self te doen.

1. Kies ‘n kleur


Om die perfekte kleur te kies, is nogal ‘n kuns wat net tyd en ondervinding jou kan leer, maar daar is tog ‘n paar riglyne wat jy kan volg.

Die kleur moet jou bestaande meubels en dekor komplementeer

Een veilige opsie is om jou mure dieselfde kleur te verf as die agtergrondkleur van jou meubels se stoffering, maar een of twee skakerings ligter. Dieselfde geld vir effekleur meubels.

Nog ‘n veilige opsie is om die mure wit of ‘n ander neutrale kleur, soos sandkleur, te verf en net een of twee mure ‘n helderder kleur of ‘n donkerder skakering van die hoofkleur te verf om as fokuspunt te dien. Vir verdere kontras kan jy die fokusmure met ‘n getekstureerde verf of ‘n metaalverf met byvoorbeeld ‘n silwer afwerking verf.

As jy wil waag met ‘n helderder kleur, hou in gedagte dat kleur ‘n sielkundige uitwerking het en die atmosfeer van ‘n vertrek kan beïnvloed. Bloue en groene is byvoorbeeld koel, rustige kleure, en in ‘n sagte skakering is dit ideaal vir ‘n slaapkamer of badkamer. Maar ‘n vertrek wat van bo tot onder helder blou geverf is, kan ná ‘n ruk neerdrukkend voel. Oranjes en rooie is weer warm, passievolle kleure wat denke en kreatiwiteit aanwakker. Dit werk uitstekend in ‘n eetkamer waar jy onthaal of ‘n werkkamer waar jy geïnspireer wil word, maar minder goed vir ‘n vertrek waar jy wil ontspan.

Jy moet van die kleur hou

Dit help nie jy kies ‘n kleur wat in die mode is (tans is dit geel) of wat as stylvol beskou word, byvoorbeeld grys, as jy nie self daarvan hou nie. Jy is immers die een wat daarin moet vaskyk en daarmee moet saamleef, so kies iets wat vir jóú werk en jou goed laat voel as jy die vertrek binnestap.

Dit moet die regte skakering wees

Die beste is om ‘n paar kleurkaarte by jou verfwinkel te gaan kry. Knip die kleure uit waarvan jy hou en plak die stroke een vir een op die muur wat jy wil verf. Staan terug en probeer jou indink hoe dit sal lyk as die hele muur daardie kleur geverf is. Hou in gedagte dat die kleur omtrent twee skakerings donkerder sal lyk as dit op ‘n hele muur gebruik word, so kies altyd ‘n skakering of wat ligter as jou aanvanklike keuse. Kyk ook op verskillende tye van die dag na die kleur. As jou vertrek soggens sonlig kry, sal dit heeltemal anders lyk as in die middag wanneer dit in skadu gehul is. Indien jy steeds twyfel, laat meng ‘n klein hoeveelheid van die kleur. Sommige verfhandelaars vra baie min vir monsters van hul waterbasisverf. Verf dan eers ‘n groter blok of twee voor jy finaal besluit en verf vir die hele vertrek aankoop.

2. Koop die verf


Sodra jy weet watter kleur jy wil hê, moet jy besluit watter verf jy wil gebruik en hoeveel jy daarvan gaan nodig hê. Om te bepaal watter soort verf jy moet gebruik, hou in gedagte wat tans op die mure is. ‘n Waterbasisverf het ‘n mat, byna poeieragtige voorkoms. Jy kan ‘n waterbasis- óf emaljeverf bo-oor dit verf. ‘n Emaljeverf, oftewel ‘n oliebasisverf, het weer ‘n effense glans, al is dit ‘n mat glansverf, en jy kan slegs ander emaljeverwe bo-oor verf, tensy jy dit eers met ‘n universele grondlaag (‘universal primer‘) bedek.

Wat die hoeveelheid betref, moet jy die mure wat geverf moet word meet en dan die totale breedte vermenigvuldig met die hoogte om die mate in m2 te verkry. Die meeste verfhandelaars sal vir jou presies kan sê hoeveel jy van ‘n sekere soort verf gaan benodig as jy vir hulle dié mate gee. Onthou om die tekstuur van die mure in ag te neem – ‘n muur met ‘n onegalige, growwe tekstuur sal meer verf absorbeer as ‘n gladde muur – en laat ook toe vir herstelwerk wat jy dalk later wil verrig.

3. Berei die vertrek voor


Dra al die meubels uit die vertrek

Die meubels wat te groot en swaar is om uitgedra te word kan met plastiekvelle bedek word. Dié velle is by die meeste plekke beskikbaar wat verf verkoop. Om te verhoed dat dit afglip, maak die velle stewig vas aan die meubelpote, ens. met stukkies maskeerband.

Haal al die prente en dies meer van die mure af

Sit klein items soos skroewe, hakies en ligskakelaar- en muurpropdeksels in een houer sodat dit nie wegraak nie en alles bymekaar is.

Bedek die vloer

Bedek die hele vloer met plastiekvelle of koerantpapier.

Was enige muf of vetterige kolle af

Dit is altyd ‘n goeie idee om die mure eers deeglik skoon te maak met ‘n suikerseepoplossing.

Verf kleef nie aan olierige kolle nie, en donker merke kan steeds deur ‘n ligte kleur sigbaar wees. Was die mure agterna met ‘n skoon lap af en maak seker dis heeltemal droog voor jy begin verf.

Vul enige gate en krake met kraakvuller op

Maak seker dat jy die regte sort kraakvuller gebruik – daar is soorte vir binnenshuise én buitenshuise gebruik. Wend dit met ‘n spatel aan, laat dit heeltemal droog word en skuur dit dan netjies glad. Vee al die stof met ‘n droë verfkwas af voordat jy begin verf.

Skraap enige verfblasies of verf wat afdop af

Gebruik ‘n verfskraper om dit te verwyder en skuur dit glad voordat jy die stof afvee.

Plak dele toe wat nie geverf moet word nie

Vloer- en plafonlysies, venster- en deurrame, en enigiets anders wat nie afgeskroef of afgehaal kan word nie, moet met maskeerband bedek word om te verhoed dat jy daaroor verf.

Hou jou toerusting en materiaal byderhand

Pak alles wat jy gaan nodig hê in die middel van die vertrek. Jy wil nie in die middel van ‘n sessie onderbreek word om ‘n lap te kry of ‘n skroewedraaier te soek om ‘n blik oop te maak nie.

Trek ou klere en skoene aan

Dis omtrent onvermydelik dat jy op jou klere gaan mors, maak nie saak hoe versigtig jy werk nie. Dra skoene wat jy maklik kan uitskop sodat die verf op jou sole nie deur die huis versprei word as jy na ‘n ander vertrek stap nie.

4. Verf die mure


Begin deur eers met ‘n verfkwas al om die buiterande van die mure, asook om die ligskakelaars, muurproppe, venster- en deurrame, en alle ander dele waar die verfroller nie gaan bykom nie, te verf. Dit word die insnywerk genoem en jy bespaar baie tyd deur dit eerste te doen. As jy daarmee klaar is, verf die res van die mure met ‘n roller. Werk met ‘n effense oorkruisbeweging sodat die verf egalig versprei word en jy nie strepe verf nie. Probeer ‘n hele muur in een sessie doen, aangesien die meeste verwe ‘n sigbare streep sal laat as dit droog raak en jy dan weer daaroor begin verf.