Lesersresep: Wildspastei

Genoeg vir: 8-10
Bereidingstyd: 1 uur
Gaarmaaktyd: 11⁄2 uur
Oondtemperatuur: 180 ˚C

• olyfolie
• 2 kg wildsvleis, in stukke gesny
• 1 liter beesvleisaftreksel
• 2 uie, grofgekap
• 2 groot aartappels, grofgekap
• 125 ml blatjang
• 1 blik klappermelk
• 100 g beesstert-soppoeier
• gesmelte botter
• klaargemaakte skilferdeeg
• 1 eier, liggies geklits

1 Verhit ’n laag olyfolie in ’n groot kastrol en braai ’n paar stukke wild op ’n slag bruin. Skep dan al die vleis terug in die kastrol. Verhit die aftreksel tot kookpunt en gooi dit oor die vleis – al die stukke moet bedek wees. Geur met ’n bietjie swartpeper en laat prut tot sag. Haal van die plaat af en laat afkoel.
2 Gooi die inhoud van die kastrol deur ’n sif en hou die aftreksel. Sny die vleis in kleiner stukkies. Haal enige bene en senings uit.
3 Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n skoon kastrol en soteer die uie tot deurskynend.
4 Gooi van die aftreksel wat jy uitgehou het in ’n kastrol en kook die aartappels sag.
5 Gooi die vleis, blatjang en klappermelk by die aartappels.
6 Meng die soppoeier met ’n bietjie koue water en roer dit ook by. Laat prut tot verdik. Voeg nog aftreksel by indien nodig. Haal van die plaat af en laat heeltemal afkoel.
7 Smeer ’n oondbak met botter. Rol die deeg uit op ’n oppervlak waaroor jy liggies meel gestrooi het en voer die bak daarmee. Skep die vulsel in die deegdop.
8 Bedek die vulsel met nog ’n laag deeg en druk die kante aan mekaar vas. Verf die deeg met geklitste eier. Bak in die verhitte oond tot goudbruin en gaar.

Venison pie