Sjokolade-appelstrudel

Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 25 minute
Baktyd: 25-30 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

  • 8 groen appels, geskil, klokhuise verwyder en in blokkies gesny

  • 125 ml vars onversoete appelsap

  • 4 naeltjies

  • 1 kaneelstokkie

  • 125 ml vars volkoringbroodkrummels

  • 50 ml suikerplaasvervanger (xilitol of fruktose)

  • 50 ml sultanas

  • 60 g suikervrye sjokolade, gekap

  • 8 velle fillodeeg

  • 30 ml gesmelte laevet-margarien

  • 30 ml afgeroomde melk


1 Sit die appelblokkies in ‘n kastrol en voeg die appelsap, naeltjies en kaneel by. Verhit dit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat dit vir 10 minute prut met die deksel op. Skep die speserye uit en dreineer die appel. Laat dit eenkant afkoel.

2 Meng die broodkrummels, suikerplaasvervanger, sultanas en sjokolade by die afgekoelde appel.

3 Verf ‘n vel fillodeeg liggies met gesmelte margarien. Sit nog ‘n vel fillo bo-op en verf dit met margarien. Herhaal met die res van die deegvelle en margarien.

4 Skep die vulsel op die deeg, maar laat ‘n randjie van 5 cm oop aan albei kort sye en een van 2 cm aan een lang sy. Vou die kort sye oor en rol die deeg op.

5 Sit die strudel met die naat na onder op ‘n bakplaat neer en verf dit met melk. Bak dit in die verhitte oond vir 25 tot 30 minute of tot bros. Sit die strudel net so in snye voor of met laevet-bevrore nagereg.