Skemerkelkies

Basiese gereedskap

Mengfles

Dié bekervormige houer met ’n deksel en siffie word gebruik om drankies met ys te meng. Die vloeistof word afgegooi en die ys bly agter.

Mengeldrankie-siffie

Dit word gebruik om die ys uit ’n drankie te verwyder nadat dit geskud is.

Ysbak en knyptang

Noodsaaklike gereedskap, want ys vorm die basis van baie drankies.

Roerstokkies

Dié klein, spiesvormige stokkies met plat handvatsels word gebruik om vrugte op te ryg, drankies mee te roer of sommer net te versier. Roerstokkies kom glo uit die 1930’s toe ene Jay Sindler gesukkel het om die olyf uit sy martini-glas te kry en die blink gedagte gekry het om ’n spesiale stokkie vir dié doel te ontwerp.

Sambreeltjies

Word gebruik om mengeldrankies mee te versier.

Strooitjies

Daar is verskillende soorte: die gewone reguit strooitjie, die konsertina-strooitjie met die geboë punt, die gedraaide strooitjie, en die lepelstrooitjie met ’n wye mondstuk om ysdrankies mee te drink. Kyk in partytjiewinkels en supermarkte wat beskikbaar is.

Maraschino-kersies

Dié ingelegde, versoete kersies word in baie mengeldrankies gebruik. Die kersies word in pekelwater of alkohol ingelê en dan gedoop in ’n suikerstroop wat met rooi koskleursel gekleur is. Laastens word die kersies met amandelgeursel gegeur.

Klassieke drankies


Nou vir die lekker deel – die resepte om die drankies te meng.

Bellini

Maak ’n fl uitglas kwartvol met yskoue perskesap. Gooi die glas vol verkilde vonkelwyn en bedien die drankie sonder om dit te roer.

Bloody Mary

Gooi 30 ml vodka, ’n paar druppels Tabasco-sous, suurlemoensap en worcester-sous in ’n lang glas vol ys. Maak vol met tamatiesap en roer goed.

Margarita

Gooi 45ml tequila, 30 ml lemmetjieof suurlemoensap, 15ml triple sec en 60 ml fyn ys in ’n mengfles. Skud goed en skink deur ’n siffie.

Martini

Gooi 45ml vodka en 15ml droë vermoet in ’n mengfles vol ys. Roer goed en skink dit dan deur ’n siffie. Sit ’n olyf by as jy wil.

Aarbei-daiquiri

Meng 30 ml ligte rum, 15ml lemmetjiesap, 5ml suiker en 125ml vars aarbeie met ’n voedselverwerker of handmenger. Gooi oor fyngemaakte ys en bedien.

Tequila sunrise

Gooi 30 ml tequila en 120 ml vars lemoensap in ’n glas vol ys. Roer goed en gooi dan 7 ml grenadine stadig by.

Blink idee


’n Shirley Temple is ’n heerlike nie-alkoholiese mengeldrankie. Gooi 30 ml Grenadine in ’n glas vol ys. Vul met koue gemmerlim of limonade, meng goed en skep ’n lepel vol vars room bo-op.