Suikermielie-poffers

Suikermielie-poffers met geurige boontjies en spek

Genoeg vir: 4
Bereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute

• 250 g strepiespek
• 15 ml olyfolie
• 1 groot ui, fyngekap
• 1 knoffelhuisie, gekap
• 1 groen soetrissie, ontpit en in repies gesny
• 1 blik Mexikaanse tamaties
• 1 blik cannellini-boontjies
• 15 ml bruinsuiker
• gekapte vars koljander, plus ekstra vir garnering
• avokado om voor te sit

Poffertjies
• 650 ml koekmeel
• 12 ml bakpoeier
• 500 ml melk
• 3 groot eiers
• 500 ml bevrore suikermielies, ontvries
• 60 ml gekapte vars koljander
• sonneblomolie

1 Kap die spek op, maar hou ’n paar repies uit vir garnering. Rooster dié repies tot bros. Verhit ’n bietjie van die olie en braai die gekapte spek. Skep dit uit die pan sodra dit gaar is en hou eenkant.
2 Voeg nog olie by indien nodig. Voeg die ui by en soteer tot sag. Voeg die knoffel en soetrissie by. Soteer vir ’n minuut en voeg dan die tamaties by. Verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat vir vyf tot 10 minute sonder ’n deksel prut. gebruik ’n hand- menger en pols die mengsel tot byna glad, maar los nog ’n paar heel stukkies.
3 Skep die spek by die sous en voeg die boontjies en bruinsuiker by. Laat prut vir vyf minute. geur na smaak met sout, varsgemaalde swartpeper en koljander.
4 Poffertjies Sif die meel en bak- poeier in ’n mengbak. Maak ’n holte in die middel. Klop die melk en eiers saam en gooi dit in die holte. Roer die meel van die kante af in. Klop tot glad. Roer die suikermielies en koljander by.
5 Verhit ’n lagie sonneblomolie in ’n kleefvrye pan. Skep lepels vol van die poffertjie-beslag in die warm pan. braai vir twee tot drie minute aan ’n kant.
6 Om voor te sit, skep van die boontjie-mengsel op ’n poffertjie en sit blokkies avokado bo-op. garneer met die geroosterde spek en vars koljander. Jy kan ook die boontjies voorsit saam met ’n geposjeerde of gebakte eier, op roosterbrood of in ’n tortilla.