Wortelkoek

Maak: 1 groot of 2 kleiner koeke
Bereidingstyd: 45 minute
Baktyd: omtrent 1 1/4 uur
Oondtemperatuur: 180 oC

• 245 ml (225 g) sagte botter
• 260 ml (225 g) ligbruin suiker
• 4 groot eiers, geskei
• fyngerasperde skil van 1 lemoen
• 315 ml (175 g) bruismeel
• 5 ml bakpoeier
• 5 ml fyn kaneel
• 3 ml fyn gemengde speserye
• 250 ml (100 g) gekapte okkerneute
• 350 g wortels, geskil, gerasper en gedreineer
• 50 ml rosyntjies of sultanas

Bolaag
• 110 ml (100 g) sagte botter
• 1/2 bakkie (125 g) roomkaas
• 285 g (500 ml) versiersuiker, gesif
• 50 g gekapte okkerneute

1 Klop die botter en suiker saam tot lig. Voeg die eiergele by en roer die lemoenskil by.

2 Sif die meel, bakpoeier en speserye saam. Vou dit saam met die neute by die bottermengsel in.

3 Klop die eierwitte styf en vou dit saam met die wortels en rosyne by die mengsel in.

4 Skep in ’n gesmeerde, gevoerde broodpan en maak met die agterkant van ’n lepel ’n holte in die middel. Bak in die verhitte oond vir 1 1/4-1 1/2 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. As die bokant van die koek ná 45 minute te donker begin raak, kan jy foelie bo-oor sit.

5 Haal uit die oond, laat vir 15 minute afkoel en keer dan uit op ’n draadrakkie. Laat heeltemal afkoel.

6 Bolaag Klop die botter tot romerig. Voeg die roomkaas by en klop tot glad. Roer die gesifte versiersuiker by. Sit in die yskas tot ferm. Haal uit die yskas en laat effens sag word. Smeer oor die koek en strooi gekapte neute oor.

carrot cake