Toetse wat jou lewe kan red

Weet jy dat jy 70% beheer het oor of jy siek gaan word of nie? Gereelde siftingstoetse – saam met ’n gesonde leefstyl – is een manier om seker te maak jy leef lank en gesond. Tik dié lysie af.



Ronél van Rooyen is ’n geregistreerde verpleegster van Johannesburg wat gereeld siftingstoetse op gesondheidsbewustheidsdae doen. Sy sê die meeste mense besef deesdae hoe belangrik dit is om gereeld jou bloeddruk, cholesterol en glukose te laat toets en te weet wat jou MIV-status is. Vir vroue is siftingstoetse vir borskanker en servikale kanker die heel belangrikste, eersgenoemde veral as jy ’n familiegeskiedenis daarvan het. Dié twee is die algemeenste kankers onder vroue in ons land, maar met ’n vroeë diagnose het jy ’n uitstekende kans om weer gesond te word.

Spoor borskanker vroeg op
1
Alle vroue ouer as 18 jaar word aangeraai om hul borste van tyd tot tyd self te ondersoek. Dis die beste om dit een keer per maand in die bed of die stort te doen. Tien tot 14 dae ná die begin van jou menstruele siklus is die beste tyd vir ’n selfondersoek.

2 Gaan dokter toe as jy ’n knop of verandering in die borsweefsel voel. Hy sal jou ondersoek en jou óf vir ’n mammogram stuur óf ’n dunnaald-aspirasie doen om selle uit die knop vir toetse te stuur.

3 As jou ma, tannie, suster of ouma met bors- of ovariale kanker gediagnoseer is, is dit dalk raadsaam om vir ’n DNS-toets te gaan. As jy weet jy het die geen en jy pas jou lewenstyl aan, kan jy die kanker vertraag en selfs verhoed. Ten minste weet jy dan dat jy gereeld vir ’n mammogram moet gaan en kan dit vroeg opgespoor en betyds behandel word.

4 Moenie rook nie, eet vier tot vyf porsies vrugte en groente per dag, en moenie meer as ’n eetlepel dierevet per dag inneem nie.

5 Wees goed vir jouself. Gaan stap gereeld, klim berg, kuier en lag saam met jou vriende, of bederf jouself by die spa.

Voorkom servikale kanker Ons het met dr. Annette Smith, ’n histopatoloog by Pathcare (Voigt & Vennote) in Bloemfontein, gepraat oor die beste maniere om servikale kanker te voorkom.

Wat is die nuwe metode wat vir papsmeer gebruik word? Dr. Smith sê: ‘Dit is die vloeistofgebaseerde sitologiese metode (LBC). Dis meer betroubaar as die gewone papsmeer, dus hoef jy nou net elke tweede jaar vir een te gaan. Dit is natuurlik tensy jy vir iets abnormaals toets, maar dan moet jou huisdokter of ginekoloog sê hoe gereeld jy hom moet kom sien.’

Watter ander voordele het die LBC-metode? ‘Buiten dat dit meer betroubaar is, kan dieselfde monstertjie gebruik word om te toets vir virusse. As die monster dus ’n abnormali-teit aandui, hoef die persoon nie nog ’n monster te laat neem nie, want dieselfde monster kan getoets word.’ Ongelukkig is dié metode duurder, maar volgens dr. Smith dek die meeste siekefondse die prosedure.

Gebruik die meeste dokters deesdae dié metode of moet jy spesiaal daarvoor vra? ‘Dis die metode wat die algemeenste in private praktyke gebruik word, en party dokters en ginekoloë gebruik selfs net dit.’

Is dit die moeite werd om my dogter teen die menslike papilloomvirus (MPV) te laat inent? ‘Die entstof kan help om servikale kanker by meisies en vroue tussen 10 en 25 jaar te verhoed, veral in hoërisiko-gevalle, dus het dit beslis sy plek.’

AFTIKLYSIE
In jou 20’s en 30’s
• Algemene ondersoek deur jou dokter of ’n ander gesondheidspraktisyn
Een keer per jaar, of minstens een keer elke tweede jaar. Dit behoort ’n jaarlikse ondersoek van jou borste in te sluit, asook bloeddruktoetse elke twee tot vier jaar en cholesterol- en bloedglukosetoetse elke vyf jaar.
• Tandarts
Elke ses maande, om jou tan-de skoon te maak en jou mond te on-dersoek. Jou tandarts moet ook kyk vir tekens van temporomandibulêre-gewrig-sindroom. Dié probleem kan deur geklemde kake, tandekners of ske-we tande veroorsaak word. Dit gaan nie noodwendig gepaard met simptome soos hoofpyn of seer kake nie.
• Ginekoloog
Een maal per jaar. Dit moet ’n papsmeer, of elke twee jaar ’n LBC-papsmeer, insluit om vir servikale kanker te toets. Die dokter moet ook voel vir knoppe in jou borste en pelvis. Laat jou ook toets vir seksueel oordraagbare siektes (SOS’s) as jy ’n nuwe seksmaat het. As jy meer as een seksmaat het, moet jy elke ses maande ’n papsmeer en SOS-toetse laat doen.
• Dermatoloog
Gaan elke jaar as jy ’n baie ligte vel het of ’n familiegeskiedenis van velkanker het. Laat die dokter jou moesies ondersoek en karteer sodat kanker vroeg opgespoor kan word.  Anders kan jy net gaan as jy ’n snaakse moesie sien of ’n velprobleem het.

Vanaf jou 40’s, ook
• Mammogram
Laat dit jaarliks doen vanaf jou 40’s, hoewel party dokters reken jy hoef eers op 50 daarmee te begin. Gebruik jou gesonde verstand op grond van jou algemene gesondheid en familiegeskiedenis, en bespreek dit met jou dokter.
• Eggokardiogram
Kry ’n verwysingspunt vir jou hartgesondheid.
• Oogondersoeke
Jy moet jou oë gereeld laat toets deur ’n optometris. Jy kan jaarliks gaan, hoewel party dokters sê elke twee tot vier jaar is genoeg tot jy 65 is. Daarna moet jy jaarliks gaan. Die optometris sal jou sig toets en kyk vir tekens van oogsiektes, soos katarakte, drywende deeltjies of vlekkies. Hy moet ook jou oogdruk meet vir gloukoom.

Vanaf jou 50’s, ook
• Kolonoskopie
Elke vyf jaar.
• Beenmineraaldigtheid-skandering
’n Toets wat bepaal of jy osteoporose het. Dis ’n siekte wat maak dat jou bene bros word en maklik breek. Dit word vir alle vroue – en mans – van 65 jaar en ouer aanbeveel, en ook vir jonger vroue met ’n verhoogde risiko vir osteoporose. Dit is vroue wat in hul menopouse ingaan, wat baie maer of fyn gebou is, wat rook, wat vir ’n lang tyd op sekere soorte medikasie was of ’n familie-
geskiedenis van die siekte het.
• Geheuetoets
Lees ’n komplekse storie en vertel dit in hooftrekke oor, of laat iemand vir jou sy telefoonnommer gee en kyk of jy dit kan onthou – as jy dit nie in ’n lys van nommers kan uitken nie, kan dit ’n vroeë teken van Alzheimer se siekte wees.
• Skildklierprobleme
Vroue moet hul skildklier (tiroïed) elke vyf jaar ná hul menopouse laat toets. Jy moet jou ook laat toets as jy gewig verloor sonder om te dieet, geïrriteerd is, jou hart ongereeld klop, jy nie kan slaap nie of ‘pap’ voel (alles simptome van ’n ooraktiewe skildklier); of as jy moeg is, depressief voel, gewig optel, jou vel uitdroog of jy sukkel om te konsentreer (onderaktiewe skildklier).

Die man in jou lewe Buiten die ginekologiese toetse, geld dieselfde aftiklysie vir jou man, maar van sy 40’s af moet hy elke jaar vir ’n PSA-toets (prostaatspesifieke antigeen-bloedtoets) gaan om vir prostaatkanker te toets.